SOETKOEKIES

Soetkoekies is die koningin van ons tradisionele koekies.  Soetkoekies móet ‘n bietjie varkvet bevat en dit móet geurig met speserye en ‘n skeut soetwyn vermeng word.  Met elke delikate, spesery-gegeurde happie, proe en ruik ek herinneringe, die herinneringe van ‘n koekieresep wat reeds saam met Jan van Riebeeck en sy gevolg die Kaap kom Hollands maak het. Soetkoekies is elegant en stylvol, dit het nie ekstra versiersel nodig nie, maar as jy die dag lus voel vir ‘n tikkie ekstra, is harde suiker versiersel bo-op my gunsteling.  ‘n Familieresep met kaneel, kruienaeltjie en gemmer deel ek graag hieronder. Jy mag maar die varkvet uitlaat, maar tog is dit vir my ononderhandelbaar deel van die smaak van ‘n regte soetkoekie. Die mondgevoel wat dit gee (dit talm so effens in jou verhemelte) en die definitiewe smaak dimensie wat dit toevoeg, kan botter alleen nie doen nie.  Moet dit nie eers oorweeg om die soetwyn te vervang met ‘n ander vloeistof nie. Vir wat sal jy dit doen? Gaan bak dan liewer ‘n brood, maar moenie suinig wees met ‘n skeut Muskadel, Hanepoot of Jeripigo nie, ag wat en skink sommer vir jouself ook ‘n sopie terwyl die prop af is, die wynboere vertel ons heeldag ons moet meer soetwyn drink. 

Laaste twee wenke :
1. Maak die deeg vooraf en laat rus oornag in yskas, haal dan 30min voor jy bak uit dat die deeg kamertemperatuur kan word, sodat dit makliker rol.
2. Die deeg moet dun uitgerol word sodat die koekie dun en bros bak, daar is regtig geen vreugde aan ‘n dik soetkoekie nie.
 

 

FOTO HIERBO: UIT VISI DESEMBER 2011 SOETKOEKIES MET DELFT PATROONTJIES, (‘n Kosartikel oor Muskadel waarvoor ek die kos gedoen het)

Soetkoekies het ek […]

KOEKBLIKKE VOL KOEKIES VIR KERSFEES

Koekblikke vol koekies vir die lang somervakansie, is tradisie in ons huis reeds vandat ek kind is.  ‘n Handvol koekies in warm tee was ons beste medisyne om kinders te lawe wat flou, bibberend en dood van die honger uit die branders, reguit op die koekieblikke in die karavaanpark afgepeil het.  Vroeg in Desember het ons begin inpak en bak vir die vakansie by die see. Die gebakkery was van die lekkerste tye in die huis.  Radio in die agtergrond, het ons gewoel om die kombuistafel, terwyl vakansie-opgewondenheid saam met die soet geure van vars gebakte koekies vol belofte in die lug talm. Elkeen het sy oogappel-koekies gehad (en swartskaap-koekies). Hawermout-en-klapper koekies vir my pa, soetkoekies vir ons kinders en koffiekoekies vir die gaste. Die gestreepte wit-en rooi koekblikke sien ek nou nog opgestapel staan op die rak met klapperkoekies, rice krispie koekies, konfyttertjies en koshuiskoekies (die naam onthou ek, maar moenie my vra waaruit die koekie bestaan het nie).  In my hoërskool jare het ek my liefde vir bak omgeskakel in sakgeld deur koekies by die tuisnywerheid te verkoop.

Die tradisie van kleinkoekies bak is met groot ywer deur Jan van Riebeeck en sy mense voortgesit aan die Kaap. In daardie tyd het die afwesigheid van kommersiële rysmiddels beteken dat lug met moeite ingeklop moes word, daarom dat ou resepte soms vra vir “klop vir 1 of 2 of 3 uur”, en hou in gedagte dat dit dan met die hand en primitiewe klitser, vurk gedoen is. Bakpoeier het eers teen die tweede helfte van die 1800’s algemeen beskikbaar geword in Suid-Afrika. Potas of vlugsout is ook soms gebruik, maar omdat dit ‘n seperige smaak afgee indien die verhouding te veel is, sou kokke planne beraam […]

RYSPOEDING

Ryspoeding gestop soos wors in ‘n derm mag vergesog klink, maar dit is ‘n gereg wat dikwels gekook is honderde jare gelede en een wat ek vandag weer gemaak het. Dit het als begin by ‘n kompetisie in Woodstock waarna ek genooi is om met Spekko rys te kook.  Liewe Isabella Niehaus het ‘n manier om so mooi te vra, dat niemand haar kan weier nie. Toe sy my dae gelede vra of ek vandag by haar besonderse mark sal deelneem aan die Spekko rys kookkompetisie, kon ek nie nee sê nie, en spyt was ek ook nie. Isabella het ‘n uitstaande groep mense bymekaar gemaak om op Saterdae hulle tuisgemaakte, handgemaakte en met liefde gemaakte produkte te verkoop by die Market at The Palms in Woodstock, Kaapstad. Die atmosfeer is pure platteland en hartlik al is dit in die hartjie van die stad.  As jy nog nie ‘n oop Saterdagoggend gekry het om ‘n draai te gooi by Market at The Palms nie, dink dan ‘n verskoning uit, neem die gesin en spandeer ‘n wonderlike Saterdagoggend tussen die kraampies met keur produkte.

 

Ek en my mede – deelnemers Nina Timm, Anna Carolina Alberts, Fritz Brand, Samantha Liedeman en ons eie Isabella het soveel pret gehad -  dat ons gesukkel het om te fokus te hou op ons  Spekko rys geregte, maar ‘n skramse loer in die ry af na hulle geregte het my mond behoorlik laat water.  Daar was onder andere kerriegroente-en-rys, rys poffertjies met sjokoladesous, ryspoeding met ‘n brulee bolaag, groente-en rys roerbraai en repies steak op rys, mmmmm heerlik.  Tussen grappies met my  buurman en mede deelnemer Fritz Brand en korswil met Gerard Scholtz die seremoniemeester, het ek ryspap gekook, geroer en […]

Die Van der Merwe’s van Diepdrift herbesoek

Die lente het skaars aangemeld of ons is al weer op ‘n gallop verby, haastig oppad na die voorsomer. Iewers het ek ‘n paar maande verloor uit 2014 – het in Julie laas tyd afgeknyp om op Kos-se-storie te kuier. So verskoon asseblief vandag se gedrade optellery, maar ek het ‘n kosstorie wat halfpad geskryf was en dit moet vandag eers klaar gemaak word.

Ek het laas geeïndig met ‘n kuier in Calvinia, panbiltong en bakbiltong . Dalk was dit die uitwerking van ‘n heerlike vakansie, maar die interessante storie oor ‘n tradisionele gereg was volgens my darem net te los-en-vas geskryf om te tel vir ‘n afgehandelde joppie. Vandag plaas ek die resep en storie in Dirk van der Merwe se eie woorde – probeer dit gerus, mmm heerlik.

 

Dirk se storie oor pan- en bakbiltong:

“Bakbiltong word  in ‘n pan gebraai. In ons wêreld praat mense van bak in die pan of in die oond en daarom kan jy praat van panbiltong of bakbiltong. Dieselfde geld teen die Weskus as ons verwys na gebakte vis vir vis wat in die pan gebraai is.

Bakbiltong word gewoonlik gemaak van ‘n spesifieke boudspier wat ons die rondebiltong noem, maar sy wetenskaplike naam is Muscularis Semitendinosus.  Die spier word net soos biltong hanteer, maar dit word net vir ‘n dag of twee in ‘n koel biltongkamer/kas gehang om ‘n dun droë lagie te vorm. Daarna sny ons dit in skywe omtrent 7 – 10mm dik en braai dit ‘n paar sekondes op ‘n kant in ‘n warm pan met botter. Die biltong kan gevries word, voor of na dit winddroog gemaak is.

Die gewoonte het ontstaan aangesien die spesifieke spier nie baie sag is nie, maar die meeste vleis op een […]