SUURVYE en suurvykonfyt

Hierdie tyd van die jaar begin ek uitkyk vir die klein bruin vruggies van die suurvy (Carpobrotus edulis) wat oral in die kusgebiede en binnelands van Namakwaland, Noord-Kaap tot die Wes-Kaap en Oos-Kaap voorkom.  Die vetplant groei plat en rankerig oor veral sanderige grond. Die vlesige blare, sowel as die vrugte is eetbaar en word vir medisinale gebruike aangewend.  Dit word vandag op verskeie ander plekke in die wêreld aangetref, waar dit veral aangeplant is as ‘n pioniersplant om grond te stabiliseer, maar ongelukkig het dit plek-plek in ‘n pestelensie ontaard wat plaaslike flora verdring. Elders staan die plant ook bekend as “pig face” (Australië) en “highway ice plant” (VSA).  Alhoewel ek al die plante oorsee opgelet het, het ek nog nooit buite Suid-Afrika se grense gehoor dat daarmee gekook word nie. Dalk is daar iemand anders wat weet?  Vir my is dit ‘n unieke Suid-Afrikaanse smaak, ‘n aangename verrassing vir menige oorsese besoeker wat ek al daarmee laat kennis maak het.

As kinders het ons na ‘n lekker swem in die see, kortpad terug gekies oor die duine. Op die duine het ons gewoonlik ‘n handvol suurvye bymekaar gemaak, om al suigende en suurkiewe terug te loop. Seker die dat ek nou nog suurvye met Desembervakansie vereenselwig. Vir  uitsuig is die suurvytjies wat al ‘n lekker harde skil gevorm het my voorkeur. Die ouer vrugte is soeter en as jy byt deur die harde skil om die sap uit te suig, is die beloning ‘n heerlike suur, effens frank en effens souterige sap. Ons maak nou nog Desembermaande ‘n pluksel suurvye bymekaar om mee konfyt te kook. Vir konfyt kook is die jonger vrugte weer verkieslik, want die harde suurvye kook nie sag nie.  […]

Swellendam Drostdy

Overberg, Rûens, langs die walle van die Koringlandsrivier kronkel my geboorte dorp Swellendam. Oud en mooi lê Swellendam in die geil holtes, aan die voet van die Langeberge. Tienuurkop en Twaaluurkop staan wag oor skaars fynbos, heuningbos en aandblom. Onlangs kuier ek weer daar, loop historiese geboue na wat dateer van 1747, ry deur plekke wat met onthou-name soos Klipperivier, Hermitage (ons Swellendammers praat sommer van die Hermetiet), Voorhuis, Bodorp en Onderdorp.

Ek gaan kuier by een van my gunsteling plekke op Swellendam – die Drostdy, eerste gebou in Swellendam. Dis gebou as amptelike woning vir die landdros, nadat die Politieke raad van die VOC in 1746 ‘n “Stuk Land aan de Coornland Rivier”  toegeken het hiervoor.

Die Drostdy bly vir my n plek van ontdekking, waarheen ek graag weer en weer sal gaan. Met elke besoek sien ek iets anders, beleef ek opnuut.  Die keer staan ek lank stil in die magistraatskantoor.  Uit hierdie vertrek is wet en orde gehandhaaf, van hier is oor onskuld of skuld beslis,  is straf uitgedeel.  Dis ‘n mooi vertrek – in kontras met die skelmstreke en boewery wat voorheen hier voor die landdros gebring is.  Heel agter in die vertrek staan 3  soliede houtbanke gemaak met goeie vakmanskap, voor dit rye stoele en heel voor die magistraat se tafel.  Helder sonskyn stroom in deur die groot hout-ruitjiesvensters,  ‘n sonnige vertrek, ruim met hoë plafon. Was hierdie sonnige skyn ook teenwoordig 350 jaar gelede? Of was dit ‘n somber vertrek, waar gewigtige besluite geneem is?  

 

Laaste besoek ek, met ‘n lang leiklipgang langs, die kombuis en spens, my gunsteling vertrekke.  Ek is lief vir ou kombuisgereedskap. Oor ek die afgelope tyd so jellie-behep is, soek en sien ek oral jellie-vorms, nooit voorheen gemerk. Dis ‘n […]