BESTE MELKTERT – die resep van ‘n legendariese bakker

Terwyl almal gister oor melktert gesels het op Nasionale melktertdag, vang my oog ‘n Sarie-tydskrif artikel van 1949 oor ‘n uithaler-bakster, Mev. Anna Bamberger van die Paarl. Sy was nie net in haar eie kontrei bekend vir haar melktert nie, maar het in die huisvlyt-afdeling van die Rosebankse tentoonstelling jaar na jaar met die louere weggestap.

Volgens haar is die resep eenvoudig, maar lê die geheim in die metode en elke fynste detail van haar resep moet gevolg word as jy sulke mooi melkterte soos sy wil bak.  Hier is haar resep en melktertgeheime.

*ek het haar resep van ponde en onse na moderne mates aangepas

TERTDEEG

450g       botter

450g       koekmeel

1t            tafelsout

geel van 1 eier

1Etl          yskoue water

1 ½ Etl   suurlemoensap

Geheim #1: Sy beveel aan dat goeie kwaliteitbotter, wat min water bevat gebruik word. Sy haal haar botter die vorige aand uit die yskas en hang dit oornag in ‘n klam doek op, want volgens haar is dit te hard en bros as dit direk uit die yskas kom. (Die rede waarom sy dit noem is natuurlik omdat tuisgemaakte botter algemeen beskikbaar was in 1949. Sy beveel tuisgemaakte botter aan vir smaak, maar “winkelbotter” vir minder voginhoud).

Sy sif die meel en sout saam en vryf dan 4 eetlepels botter liggies in, klits die geel van ‘n eier met ‘n draadklopper en voeg die water by en klits dan totdat ‘n goeie skuim gevorm word. Daarna word die suurlemoensap bygevoeg en die meel met die mengsel tot ‘n taamlike stywe deeg aangemaak. Die deeg word daarna baie goed gebrei sodat dit glad en rekkerig word. Mev Bamberger sit dit dan eenkant soland die botter uitgerol word.

Geheim #2: Die rolmetode van die botter beskou mev Bamberger as die geheim […]

MELKTERT

Ek was nie van plan om iets te skryf oor melktert nie, want net waar ek kyk het iemand reeds iets geskryf of te sê oor melktert. Dis lekker as almal saam oor kos gesels en veral saampraat oor geskiedenis, ek is heeltemal ten gunste daarvan. Maar heelwat van die “feite” wat ek raak lees is onakuraat – daarom kortliks hieronder ‘n paar melktert trivia’s.
Terloops, niks is ooit finaal klinkklaar nie, dalk vind ons nuwe inligting wat nuwe lig werp, maar vir nou is dit die feite van betroubare bronne tot my beskikking. Gesels gerus saam of lees die melktert-artikel wat in November 2013 in Sarie-tydskrif verskyn het.

VRAAG: IS MELKTERT UNIEK AAN SUID-AFRIKA
ANTWOORD: JA EN NEE
Ons tref in verskeie lande heerlike soetterte en variasies van die eiervla-familie aan. Die Spanjaarde is lief vir gebakte vla en die Portugese smul graag aan klein vla-tertjies waarvan die oorspronklike resep tot vandag geheim gehou word. Die Franse is die trendsetters as dit by fyngebak kom en hulle het ‘n paar tradisionele soet nommertjies op die melkterttema ontwikkel. Swymelend-wekkende Gâteau Basque is ‘n ryk vlapap-tert in amandeldeeg, met die verskil dat dit bo sowel as onder bedek word met amandeldeeg. Vla-gevulde mille feuille en chouxpoffetjies, torte en gateau wink almal saam in Franse patisserie-vensters om verbygangers te oorrompel. Jan van Riebeeck het gereeld aantekeninge gemaak oor sy beeskudde en melkkoeie – die einste koeie wat hy mettertyd aan sy opperhoewenier Annetje (Joris) Boom uitverhuur het. Melk en botter was dus beskikbaar om melktert te maak en verder het Jan ook geskryf oor die hoenders wat aan die Kaap groot gemaak is en wat aan die etenstafel bedien is – dus sou eiers ook beskikbaar wees vir die eiervla.

Hedendaagse Suid-Afrikaanse […]