SUURVYE en suurvykonfyt

Hierdie tyd van die jaar begin ek uitkyk vir die klein bruin vruggies van die suurvy (Carpobrotus edulis) wat oral in die kusgebiede en binnelands van Namakwaland, Noord-Kaap tot die Wes-Kaap en Oos-Kaap voorkom.  Die vetplant groei plat en rankerig oor veral sanderige grond. Die vlesige blare, sowel as die vrugte is eetbaar en word vir medisinale gebruike aangewend.  Dit word vandag op verskeie ander plekke in die wêreld aangetref, waar dit veral aangeplant is as ‘n pioniersplant om grond te stabiliseer, maar ongelukkig het dit plek-plek in ‘n pestelensie ontaard wat plaaslike flora verdring. Elders staan die plant ook bekend as “pig face” (Australië) en “highway ice plant” (VSA).  Alhoewel ek al die plante oorsee opgelet het, het ek nog nooit buite Suid-Afrika se grense gehoor dat daarmee gekook word nie. Dalk is daar iemand anders wat weet?  Vir my is dit ‘n unieke Suid-Afrikaanse smaak, ‘n aangename verrassing vir menige oorsese besoeker wat ek al daarmee laat kennis maak het.

As kinders het ons na ‘n lekker swem in die see, kortpad terug gekies oor die duine. Op die duine het ons gewoonlik ‘n handvol suurvye bymekaar gemaak, om al suigende en suurkiewe terug te loop. Seker die dat ek nou nog suurvye met Desembervakansie vereenselwig. Vir  uitsuig is die suurvytjies wat al ‘n lekker harde skil gevorm het my voorkeur. Die ouer vrugte is soeter en as jy byt deur die harde skil om die sap uit te suig, is die beloning ‘n heerlike suur, effens frank en effens souterige sap. Ons maak nou nog Desembermaande ‘n pluksel suurvye bymekaar om mee konfyt te kook. Vir konfyt kook is die jonger vrugte weer verkieslik, want die harde suurvye kook nie sag nie.  […]

Die Van der Merwe’s van Diepdrift herbesoek

Die lente het skaars aangemeld of ons is al weer op ‘n gallop verby, haastig oppad na die voorsomer. Iewers het ek ‘n paar maande verloor uit 2014 – het in Julie laas tyd afgeknyp om op Kos-se-storie te kuier. So verskoon asseblief vandag se gedrade optellery, maar ek het ‘n kosstorie wat halfpad geskryf was en dit moet vandag eers klaar gemaak word.

Ek het laas geeïndig met ‘n kuier in Calvinia, panbiltong en bakbiltong . Dalk was dit die uitwerking van ‘n heerlike vakansie, maar die interessante storie oor ‘n tradisionele gereg was volgens my darem net te los-en-vas geskryf om te tel vir ‘n afgehandelde joppie. Vandag plaas ek die resep en storie in Dirk van der Merwe se eie woorde – probeer dit gerus, mmm heerlik.

 

Dirk se storie oor pan- en bakbiltong:

“Bakbiltong word  in ‘n pan gebraai. In ons wêreld praat mense van bak in die pan of in die oond en daarom kan jy praat van panbiltong of bakbiltong. Dieselfde geld teen die Weskus as ons verwys na gebakte vis vir vis wat in die pan gebraai is.

Bakbiltong word gewoonlik gemaak van ‘n spesifieke boudspier wat ons die rondebiltong noem, maar sy wetenskaplike naam is Muscularis Semitendinosus.  Die spier word net soos biltong hanteer, maar dit word net vir ‘n dag of twee in ‘n koel biltongkamer/kas gehang om ‘n dun droë lagie te vorm. Daarna sny ons dit in skywe omtrent 7 – 10mm dik en braai dit ‘n paar sekondes op ‘n kant in ‘n warm pan met botter. Die biltong kan gevries word, voor of na dit winddroog gemaak is.

Die gewoonte het ontstaan aangesien die spesifieke spier nie baie sag is nie, maar die meeste vleis op een […]

KALAHARI TRUFFEL, n’Abba, kosjuweel

Die noordelikste punt van die Kaapprovinsie en die Kalahari lê sluimerend, dor en warm.  Die skoonheid daarvan wil-wil jou asem wegslaan. Dit is sagte rooiduine, driedorings, kameeldorings, lemoendoring, grasvlaktes. Oor elke bult en rand wag  ‘n verrassing.  ‘n Bok, ‘n volstruis of kleiner gediertetjie, dié sien jy gereeld. Hoogbejaarde doringbome troon wys, gedweë, met skurwe bas en takke wyd oopgebuig oor kleiner kameeldoringboompies wat nog dekades se son en droogtes sal moet deurstaan voor hulle ook eendag soos die groottes sal troon.  Versamelneste, gesellige groepsbehuising vir kwetterende geveerde vriende hang windskeef in die mooiste organiese vorms aan boom en paal, prentjies so reg uit n dr. Seuss kinderboek. Die wêreld was eens onder water, onder ‘n sop van primitiewe lewe, en van die soutwater is ondergronds vasgevang. Vandag kom die oerwater weer na die oppervlak. Dit blink in spieëlgladde panne vol soutkristalle, spierwit en broos. Bevoorregte vrou is ek, om met n kardoesie van die sout as vaarwel in die hand huiswaarts te keer. Terwyl ek ‘n knippie van die sout oor kos strooi kan ek nie anders as om met verwondering en dankbaarheid te dink dat dit die eindproduk van ‘n proses is wat miljoene jare gelede begin het nie.

Ons kuier ‘n lekker familiekuier. Niggies en neefs wat saam gespeel het, saam groot geword het, geborgenheid en vriendskappe vir lewenslank gesmee. Grootneef inisieer ons in geheime van die Kalahari-ingewydes, klein natuurwondertjies wat jy sal mis as jy net deurry.  Het jy al ooit die dieplekker van nat Kalaharisand geruik, of gekou aan die dun naaldjies van ‘n lemoendoring en die bitterlemoensmaak daaruit gesuig?  Ek vra na n’Abba, kalahari truffels, kosjuweel van die kontrei.  Dis ‘n swam wat ondergronds groei, ‘n bruin knol. “Ja, […]