ONS LAND IN ‘N POTJIE

Suid-Afrika het soveel unieke plante en diere wat op ons borde beland dat ons vir ‘n oorsese gas met trots ‘n unieke koservaring kan bied. Waterblommetjies is een van my gunstelinge en my ma se waterblommetjiebredie is die lekkerste, dit bly huiskos en onthoukos.  As kinders het ons graag onder by die dam op ons plaas gaan waterblomme pluk. Dit was gewoonlik ‘n halfdag uitstappie tot ons weer terug by die huis was - modder besmeer en lekker moeg. Waterblomme is volop in die winter en vroeg lente. Dit is ‘n tydrowende proses om te oes, want jy moet in die vlak water, gewoonlik so heuphoogte, in die modderdamme rondloop om die waterblomme te pluk. Vir ons was dit groot pret en ons aandag is gedurig afgetrek deur paddas, waterskilpaaie en ander damlewe – ons het selfs af en toe onsself verbeel ons sien vir Antjie Somers, want vir ons was sy werklik, ons het vas geglo sy loop rond. Dan is die waterblommetjies netjies van die stingeltjies afgebreek en 3 keer in skoon water afgespoel. Die delikate wit blommetjies stel ‘n lieflike geur vry en vir my is die geur vir altyd vermeng met modderwater en sorgvrye kindwees.  Party mense kook ook met die stingels, maar ons het altyd net die blommetjies gekook en verkies volwasse blomme, want anders kook dit te gou weg en raak die bredie ‘n pappery. Vir ‘n lekker waterblommetjiebredie het jy ‘n vetvleisie nodig, skaaprib is net reg. Braai 2 gekapte uie in ‘n swaarboomkastrol, haal die uie uit en braai dan ‘n skaaprib wat in porsiegroottes gesny is, en gegeur is met sout, peper,  koljander en as jy wil knippie neutmuskaat tot bruin. Voeg die uie terug in die pot en laat stadig stowe met bietjie vleisaftreksel totdat die vleis amper […]

TEE – DAAR IS EEN VIR ELKE SMAAK

Dagdroom jy ook soms daaroor om in ‘n ander era en ‘n ander tyd te geleef het? Ek wens dikwels ek kon myself ‘n paar honderd jaar terug in die verlede plaas, maar die dagdromery word gewoonlik kort geknip wanneer ek onthou van basiese dinge waarsonder mense honderde jare gelede moes klaarkom, soos byvoorbeeld goeie tandheelkundige sorg. As jy na ou portrette kyk, sien jy nie sommer ‘n portret van ‘n spierwit, breë glimlag nie – nee, kyk maar mooi, die mondjies bly netjies toegeknyp, gewoonlik met dun lippies en ‘n belofte van ‘n glimlag om die mondhoeke.  Seker ook nie ‘n wonder as jy lees dat die Kapenaars die gebruik gehad het om ‘n klontjie suiker tussen die voortande vas te byt en dan die koffie of tee deur die suikerklontjie te suig nie. As jy verder daaraan dink dat die Kapenaars bekend was vir hulle besonderse gasvryheid en dat daar volgens ou reisjoernale heeldag ‘n ketel koffie of bossie tee op die vuur getrek het, gereed om besoekers te verwelkom, dan het die heeldag se koffie – en tee-drinkery beslis nie ‘n stel spierwit mieliepitte gelaat om mee te spog nie.

Ons kan trots wees op ons eie inheemse tee naamlik rooibos – en heuningbos tee, wat regoor die wêreld geniet word, maar Suid-Afrikaners is ook lief vir swart tee, of soos ek dit as kind leer ken het “Ceylon” tee en daarom gee ek hieronder ‘n kort opsomming oor verskillende tee wat tot ons beskikking is. Net soos die koffie revolusie ons ‘n paar jaar gelede getref het, toon al meer mense waardering vir goeie kwaliteit tee.

Rooibos / rooi tee

Rooi tee, of rooibos, word van ‘n bossie bekend as die Aspalathuslinearis gemaak. Die bossie is endemies aan die […]

Ou Kaapse Brandewyn Poeding

“O brandewyn laat my staan” is die deuntjie in my kop, wanneer ek die kabinet oopmaak om ‘n knerts brandewyn te skink vir Ou Kaapse brandewyn poeding. Vandag maak ek Ou Kaapse brandewyn poeding vir ‘n spesiale oorsese maat, wat jare laas ’n kuier in ons land gemaak het. Die verleidelike poeding-kombinasie van dadels met ‘n stroopsoet brandewynsous in die Ou Kaapse brandewyn poeding is onweerstaanbaar en deel van baie kos herhinneringe.  Die naam het altyd ‘n rapsie misterie vir my ingehou, want waar sou die brandewyn poeding in die Ou Kaap ontstaan het? Was daar ‘n oorskot brandewyn en wie sou die skepper van die gewilde resep wees? Hoekom word dit soms ook genoem  brandewyn poeding, “tipsy tert” of “brandewyn tert”, terwyl dit eintlik nie ‘n tert is nie? (more…)

Suurribbetjie

Ek bedank nooit ‘n blinkvet ribbetjie nie, veral nie skaaprib oor die kole gebraai en as ek hom met beentjie en al met die hand mag eet nie. Pas tuis van‘n heerlike Desember vakansie by die see, is dit waarvoor ek vandag lus is – seker oor ek ‘n skaaprib met Desember vakansies assosieer. My ma, ‘n baie netjiese huisvrou en goed georganiseer, het altyd sekuur van ‘n “strandlysie” af haar inpakkery vir Desember vakansie gedoen. ‘n Soutribbetjie is vooraf gemaak, goed ingesmeer met koljander, salpeter en peper  en in die safe laat winddroog raak. Die rib is saam met die 2 groot blou kostrommels, biltongslopie en koekieblikke Desember saam seetoe. (more…)

Noorsdoring jou ou doring

Wanneer mens moet terugry na ‘n lekker vakansie is daar mos gewoonlik nie veel om oor opgewonde te raak nie. So het ek ook gedink toe ons onlangs die langpad aanpak na ‘n heerlike gesinsvakansie in die bosveld. Maar iewers in die Karoo, met die naderkomslag na Jansenville, begin mens ‘n interessante ding oplet. Want skielik, vir so ver as wat die oog kan sien, is die hele landskap oortrek met ‘n kenmerkende vetplant, die noorsdoring. Dis so volop dat selfs die plantegroei Noorsveld heet. (more…)