SUURVYE en suurvykonfyt

Hierdie tyd van die jaar begin ek uitkyk vir die klein bruin vruggies van die suurvy (Carpobrotus edulis) wat oral in die kusgebiede en binnelands van Namakwaland, Noord-Kaap tot die Wes-Kaap en Oos-Kaap voorkom.  Die vetplant groei plat en rankerig oor veral sanderige grond. Die vlesige blare, sowel as die vrugte is eetbaar en word vir medisinale gebruike aangewend.  Dit word vandag op verskeie ander plekke in die wêreld aangetref, waar dit veral aangeplant is as ‘n pioniersplant om grond te stabiliseer, maar ongelukkig het dit plek-plek in ‘n pestelensie ontaard wat plaaslike flora verdring. Elders staan die plant ook bekend as “pig face” (Australië) en “highway ice plant” (VSA).  Alhoewel ek al die plante oorsee opgelet het, het ek nog nooit buite Suid-Afrika se grense gehoor dat daarmee gekook word nie. Dalk is daar iemand anders wat weet?  Vir my is dit ‘n unieke Suid-Afrikaanse smaak, ‘n aangename verrassing vir menige oorsese besoeker wat ek al daarmee laat kennis maak het.

As kinders het ons na ‘n lekker swem in die see, kortpad terug gekies oor die duine. Op die duine het ons gewoonlik ‘n handvol suurvye bymekaar gemaak, om al suigende en suurkiewe terug te loop. Seker die dat ek nou nog suurvye met Desembervakansie vereenselwig. Vir  uitsuig is die suurvytjies wat al ‘n lekker harde skil gevorm het my voorkeur. Die ouer vrugte is soeter en as jy byt deur die harde skil om die sap uit te suig, is die beloning ‘n heerlike suur, effens frank en effens souterige sap. Ons maak nou nog Desembermaande ‘n pluksel suurvye bymekaar om mee konfyt te kook. Vir konfyt kook is die jonger vrugte weer verkieslik, want die harde suurvye kook nie sag nie.  […]

Surings

Vrolik, verleidelik en verniet

Wintertyd is suringtyd en die polletjies met vrolike geel blommetjies kan oral langs die paaie en in my tuin gesien word. Surings is ryk aan vitamiene C en daarom het die skeurbuikgeteisterde bemanningslede wat die Kaap van Goedehoop aangedoen het gou geleer om die voedsame veldkos te versamel en te gebruik in geregte soos bredies, sop en verfrissende suiweldrankie. (more…)