Hierdie tyd van die jaar begin ek uitkyk vir die klein bruin vruggies van die suurvy (Carpobrotus edulis) wat oral in die kusgebiede en binnelands van Namakwaland, Noord-Kaap tot die Wes-Kaap en Oos-Kaap voorkom.  Die vetplant groei plat en rankerig oor veral sanderige grond. Die vlesige blare, sowel as die vrugte is eetbaar en word vir medisinale gebruike aangewend.  Dit word vandag op verskeie ander plekke in die wêreld aangetref, waar dit veral aangeplant is as ‘n pioniersplant om grond te stabiliseer, maar ongelukkig het dit plek-plek in ‘n pestelensie ontaard wat plaaslike flora verdring. Elders staan die plant ook bekend as “pig face” (Australië) en “highway ice plant” (VSA).  Alhoewel ek al die plante oorsee opgelet het, het ek nog nooit buite Suid-Afrika se grense gehoor dat daarmee gekook word nie. Dalk is daar iemand anders wat weet?  Vir my is dit ‘n unieke Suid-Afrikaanse smaak, ‘n aangename verrassing vir menige oorsese besoeker wat ek al daarmee laat kennis maak het.

As kinders het ons na ‘n lekker swem in die see, kortpad terug gekies oor die duine. Op die duine het ons gewoonlik ‘n handvol suurvye bymekaar gemaak, om al suigende en suurkiewe terug te loop. Seker die dat ek nou nog suurvye met Desembervakansie vereenselwig. Vir  uitsuig is die suurvytjies wat al ‘n lekker harde skil gevorm het my voorkeur. Die ouer vrugte is soeter en as jy byt deur die harde skil om die sap uit te suig, is die beloning ‘n heerlike suur, effens frank en effens souterige sap. Ons maak nou nog Desembermaande ‘n pluksel suurvye bymekaar om mee konfyt te kook. Vir konfyt kook is die jonger vrugte weer verkieslik, want die harde suurvye kook nie sag nie.  Ek vertroetel die paar flessies suurvy-konfyt, rek daarmee die lekkerte van Desember se sonskyn uit vir ‘n jaar. Die konfyt word op brood geëet, oor roomys bedien, of toffie-lekkers mee gekook. Suurvy maak ook ‘n lieflike sous vir hoender of vleis.

Ek het gaan loer in my ou reseppe boeke en Tante Allie Hewitt het al ‘n “zuur vijgen” konfyt resep in haar Cape Cookery van 1890 opgeteken. Tog sou die konfyt al lank voor tante Allie se tyd bekend en gekook geword het.  Haar resep is as volg:  Soak the figs in water till they peel easily. Scrape away all the rough parts, and have a thick syrup, into which put them and boil slowly till the syrup is well drawn through the figs. This preserve is always of a dark colour.

Vandag deel ek graag my ma se resep: (dis in ponde, en dis hoe ek nog daarmee werk).

Sny of skraap al die harde stukkies van die suurvy af met ‘n skerp messie. As die skilletjies van die suurvye hard is, laat week oornag in koue water. Haal dit uit die water, maar moenie afdroog nie, skud net die ergste water af. Plaas dit in ‘n konfytkastrol.  Vir elke pond vrugte, neem jy 1 ¼ pond suiker en gooi dit oor die suurvye. Bedek dit nou met water – soveel water dat dit omtrent 2 dunnerige vingers bo die suurvye lê. Kook alles saam, roer af en toe tot die suiker opgelos is. Kook dan vir ‘n uur en 15min stadig, tot die sous verdik, terwyl jy die skuim gereeld afskep.

As jy wil kan ‘n stokkie kaneel of kruienaeltjies bygevoeg word voor jy die stroop kook.

Bottel dadelik in ‘n skoon fles. Steek weg agter in jou spenskas, en haal uit om te eet as jy jouself wil bederf, sommer net so uit die botteltjie met ‘n lepel – en ja dis heeltemal in orde om dit alleen te wil eet, want dis harde werk om ‘n botteltjie suurvykonfyt te maak.